Huis Horison se ontstaan loop hand aan hand met die verhaal van die ondernemende Bekker-ouerpaar wie se kommer oor hul intellektueel gestremde kind se toekoms tot daadwerklike optrede gelei het. Die kind kon nie in die ope arbeidsmark gaan werk nie en daar was nie 'n ander oplossing nie. Die Bekker-gesin se probleem is met groot begrip ontvang deur die destydse hoof van die Laerskool Paul Roos, mnr Sam de Kock, en twee personeellede van die Spesiale Klas, mnr W de Villiers en mej Mimmie "Sterretjie" Verster. Hulle het begin om 'n plan te beraam.

geskiedenis 1

 Die eerste inwoners                                                                       Mej M Verster                                                                                 Boukomitee - Mev A Eksteen, Mej M Verster en Mnr George Osler

Mej Mimmie "Sterretjie" Verster het uit die aard van haar werk die behoefte aan 'n residensiële werksentrum vir mense uit spesiale klasse deeglik besef. Daarom het sy in 1957 gehelp om 'n vereniging te stig wat uiteindelik in 1974 tot die totstandkoming van Huis Horison sou lei.

Om die vereniging op die been te bring, is mnr Mauritz de Kock, medestigter van Santa, en mej Rykie van Reenen van Die Burger ook betrek. Van die eerste take was om die stigting van 'n vereniging te bespreek, 'n naam uit te dink, doelstellings te formuleer en 'n konsepgrondwet op te stel. Mev Cinnie de Kock en dr Bethel Muller het gewillig hand bygesit.

Die bestuur sou uit agt lede bestaan en hulle sou ondersteun word deur verteenwoordigers uit die Engelse, Afrikaanse en Joodse diensverenigings. Mev Bernice du Plessis is as die beskermvrou aangewys.

Die vereniging is as 'n welsynsvereniging geregistreer. Dit was egter moeilik om finansiële ondersteuning van owerheidsinstansies soos Geestesgesondheid en Volksgesondheid te verkry. Dit het vinnig duidelik geword dat hulle self grond vir die werk- en dienssentrum sou moes bekom. Gelukkig was die munisipaliteit van Stellenbosch bereid om te help. Hier het mev Eksteen, Manie Strydom en W Lubbe veral 'n groot rol gespeel. Grond is in die Voëljiesdorp-omgewing (vandag Onder-papegaaiberg) teen 'n nominale bedrag van die munisipaliteit gekoop.

Twee lede van die vereniging se dagbestuur is toe op 'n dag met hul doelstellings na die Departement Volkswelsyn om magtiging vir die voortsetting van die projek te verkry. Die staat het egter in daardie stadium nie 'n kategorie vir sulke projekte gehad nie. Gelukkig tree mej Ansie Gronum op 'n kritieke oomblik tot die gesprek toe en verras almal met haar ondernemingsgees – en in daardie oomblik is Huis Horison gebore.

Daar is met mening aan die werk gespring. Die argitek George Osler is genader om die werksentrum te ontwerp en die een fondsinsameling na die ander is van stapel gestuur. Mev T Perel van die Joodse Vrouevereniging het in hierdie stadium ook 'n groot bydrae gelewer.

Die eerste brosjure oor die projek het verskyn ná die harde werk van mej Mimmie Verster, mnr de Villiers, mev Eksteen, dr Bethel Muller en dr R Smit. Dit is taalkundig versorg deur mev JC de Wet en dr Pat McMagh. Pro Eclesia-pers het die brosjure gedruk en die Rembrandt-groep het dit geborg. Mej M van Heerden en mev ds Human het in hierdie woelige tyd onontbeerlike werk as sekretaresses verrig.

Die inwoners van Voëltjiesdorp het in daardie stadium ook 'n groot protesvergadering in die stadsaal gehou om beswaar teen die oprigting van die sentrum aan te teken. Vandag kyk 'n mens met 'n glimlag terug na hierdie stukkie geskiedenis.

Die gebou het uiteindelik begin vorm aanneem. Gemeenskapsbou het 80% van die totale koste gedra. 'n Verband is uitgeneem en later het hulp ook van die staat se kant gekom. Gewaardeerde hulp is deurgaans deur die munisipaliteit van Stellenbosch gelewer. Die bouer, mnr J le Roux van Franschhoek, en die boukomitee het uitsonderlike diens gelewer. Die boukomitee het bestaan uit mev Anna Eksteen, mnr Lubbe, dr Bethel Muller, mev Ada Brodie en mej Mimmie Verster.

'n Dam was nodig om die landbou- en tuingrond rondom die werksentrum te besproei. 'n Anonieme weldoener het hierdie behoefte raakgesien en geld daarvoor geskenk. Buitestaanders het gewonder waar die water vir die dam vandaan sou kom, want dit was net 'n entjie van die aangrensende plaas van die Mombergs. Hulle het egter nie die vloedwater van die nabygeleë woonbuurt in aanmerking geneem nie. Die dam is voltooi met die onbaatsugtige hulp van mnr Martin Hunting, en Huis Horison se dam het nog nooit 'n watertekort gehad nie.

Meubels is aangekoop en gordyne is gemaak. Mevroue Magda van der Merwe, Wium, Bestbier en René Perel het 'n leeue-aandeel in die werk gehad.

Die plasingskomitee was verantwoordelik vir die administrasie van die eerste inwoners. Die Departement Volkswelsyn het ook vereis dat daar 'n keuringspaneel moes wees. Die eerste keuringspaneel het bestaan uit prof T Roux en prof AB van der Merwe, en hulle is van van tyd tot tyd deur mnr Koos Smit en dr N du Preez bygestaan.

So het Huis Horison in 1974 sy deure oopgemaak – 17 jaar ná die stigting van die vereniging. Mej Mimmie "Sterretjie" Verster het tot 1984 in die bestuur van Huis Horison gedien. Dit was vir haar baie belangrik om elke inwoner van Huis Horision se belangstellings en vermoëns met sorg te evalueer en dan die persoon se opleiding daarby aan te pas.

geskiedenis 2

Waar kom die naam vandaan?

Die grond wat vir die oprigting van die werksentrum opsy gesit is, het 'n pragtige uitsig gehad – en het dit steeds. Aan die noordekant kon 'n mens die plaasgeboue van Middelvlei en die Mombergplaas sien en aan die suidekant het Voëltjiesdorp uitgestrek gelê. Maar as jy oos of wes gekyk het, was dit net die n

atuurlike horison. Mej Mimmie Verster het onmiddellik die betekenisvolheid van die ligging besef en Huis Horison as naam vir die werksentrum voorgestel. Die bestuur het dit so bekragtig. Die gedagte was dat die sentrum die horisonne van die inwoners en ander mense moes verbreed.

Die kiewiet in die logo het ook 'n storie. Die Bekker-gesin het eenmaal 'n wyfie-kiewiet langs die pad dopgehou wat haar nes op allerhande slim maniere beskerm en verdedig het. Só het die kiewiet die simbool van beskerming vir Huis Horison geword en is dit deel van die logo gemaak. Mnr W Malherbe, ontwerpkunstenaar van die Rembrandt-groep, het die eerste logo ontwerp. (Die Rembrandt-groep was ook verantwoordelik vir 'n skenking vir die kenteken.) Huis Horison het in plaas van 'n hoeksteenlegging 'n "kiewietonthulling" gehou. Die woorde "One of us, for all of us" is op aanbeveling van mnr Martin Hunting op die gedenkplaat aangebring. Die "one" wat die voorreg gehad het om die gedenkplaat te onthul, is deur 'n loting aangewys. Esther de Jongh, een van Huis Horison se oudste inwoners in daardie stadium, het dié eer gehad.

geskiedenis 3

 Huis Horison 10-jaar Feesblad 1974 - 1984