Residensiële dienste

Huis Horison verskaf 'n veilige infrastruktuur waarbinne volwasse mense met 'n primêre intellektuele gestremdheid kan woon, werk en sosialiseer.

Verblyf

verblyf

Huis Horison het verblyfgeriewe vir 102 inwoners. Ouers of familie koop 'n wooneenheid met lewenslange verblyfreg. Verblyf wissel van woonstelle tot enkelkamers. Die meeste van die enkelkamers het 'n klein en suite-badkamer. Voorsiening word ook vir getroude pare gemaak. Drie etes per dag word volgens dieetvoorkeure in die gemeenskaplike eetsaal geniet.

Vir inligting oor toelatingsvereistes, tariewe, huisreëls en die aansoekproses, kontak asseblief Huis Horison.

Ontspanning

verblyf 2

Sosialisering, sport en buitemuurse bedrywighede vorm 'n belangrike deel van die inwoners se lewe.

  • Sport: Die sentrum is op 'n erf van 12,5 hektaar geleë en het 'n swembad en pragtige tuin met wandelpaadjies. Sportsoorte wat beoefen word, sluit in swem, atletiek, lyndans, bocce (mini-rolbal), stap en fietsry.
  • Ander tydverdrywe: Elke koshuis het 'n sitkamer waar inwoners kan TV kyk en ontspan, en daar is ook 'n gemeenskaplike snoekertafel. Gunstelingaktiwiteite is onder meer dans, musiek, sing, lees en snoeker. Verjaardagpartytjies is ook belangrik. Ons moedig ook rustige en kreatiewe persoonlike ontspanning aan.
  • Geestelike ondersteuning: Geestelike groei word deur 'n weeklikse koffiekroeg en kerkbetrokkenheid van verskillende kerkdenominasies moontlik gemaak.
  • Buitemuurse aktiwiteite: Ons reël uitstappies in die natuur en ons help inwoners om konserte en ander byeenkomste by te woon.
  • Vriende en familie is welkom om inwoners te besoek en uit te neem. Hulle moet net vooraf skriftelike goedkeuring van die ouers of familie verkry en die nodige reëlings met Huis Horison tref.